Titel: Prins Pikkewiet en die towerpot
Outeur: Charlie Diener
ISBN: 978-1-920335-51-9
UIT DRUK

Die jong prins Pikkewiet moet eendag sy pa, die wyse koning Koeloe, opvolg om die koninkryk van Batataland te regeer. Ewe windmaker spog hy oor hoe hy die septer oor almal gaan swaai.

Die prinsie is egter maar lui om te leer en meester Marakas is raadop. Hy maan Pikkewiet om op te let in die klas en VERANTWOORDELIKHEID te aanvaar.

Wanneer die koning op ’n sakereis vertrek, moet prins Pikkewiet sy pa se skoene vol staan en tot in die hof toesien dat reg en geregtigheid in Batataland geskied.

Die towerpot wat ’n vreemdeling aan die prins skenk, leer almal ’n dure les: Niemand is sonder foute nie, maar almal kan leer uit hul foute en VERANTWOORDELIK optree.

Die keurige, verbeeldingryke illustrasies deur Heleen Steyn dra by tot die leesgenot.

 

Charlie Diener

Charlie Diener is ’n vryskutskrywer, kreatiewe direkteur en onafhanklike filmmaker.

Hy voltooi sy studie in 2003 aan die AAA School of Advertising in Johannesburg waar hy ’n diploma in kopieskryf verwerf. Hy verkry ook ’n diploma in bemarking en kommunikasie van die International Advertising Association.

Hy was voorheen ’n kopieskrywer en strateeg in die reklame- en bemarkingsbedryf by onder meer TBWA/Hunt/Lascaris en OwenKessel Leo Burnett. In 2012 stig hy die inhoudbemarkings-agentskap The Content Mint. Hy was ook die draaiboekskrywer en vervaardiger van die kortfilm ’n Liefdeslobotomie vir die 2014 kykNET Silwerskermfees. In 2015 werk hy as verslaggewer by die Waterbergse streekskoerant Die Pos.

Charlie is ’n lid van The Writer’s Guild of South Africa en woon saam met sy vrou in ’n skeepsbehoueringshuis waar hy kortverhale, kinderstories en wolhaarstories skryf.

 

Heleen Steyn

Heleen Steyn is ’n passievolle illustreerder, digitale kunstenaar, visuele storieverteller en deeltydse dosent.

Sy voltooi ’n vierjarige BA-graadkursus in Inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria. Daarna slyp sy haar kreatiewe vaardighede ook by The Open Window School of Visual Communication en die aanlyn-kunsskool Schoolism.

Heleen is gefassineerd met die ontginning van kleur, lig en ontwerpbeginsels om die storielyn visueel aan te vul en te versterk. Dis vir haar ’n boeiende, oneindige reis, waar sy daagliks leer en ontdek.