Welkom in die wonderlike wêreld van Meisies se dinge & . . .

Maak kennis met Izzie, Lucy, Nesta en TJ en alles wat hulle aanvang en beleef – van vriendskap en verliefdheid tot flaters en frustrasies.

Meisies se dinge en opblaasbra’s is die eerste boek in dié briljante reeks deur Cathy Hopkins. Lees dit en jy sal ook die ander twaalf boeke wat gaan volg, wil verslind. Jy kan jou inleef in wat met die karakters gebeur en die taal is lewendig, vlymskerp en gevat. Daar is volop humor, opwinding en pret, en skreeusnaakse situasies. Eersteklas en vermaaklike leesstof vir meisies van elf en ouer.

Fan-flippen-tasties!

 

 
Meisies se dinge & opblaasbra’s
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-00-7
UIT DRUK

 

Dit voel vir Lucy of alles om haar verander, dat daar skielik van haar verwag word om allerhande besluite te neem.

Almal behalwe sy self weet al wie hulle is en wat hulle eendag wil doen.

En nou het haar beste maat, Izzie, ook vriende gemaak met Nesta, die pragtige nuwe meisie by die skool. Lucy voel nie baie gelukkig oor dié nuwe drietal nie.

Nesta en Izzie kan deurgaan vir sestien, terwyl die veertienjarige Lucy soos ’n twaalfjarige lyk.

Maar toe Lucy op ’n dag ’n baie aantreklike ou oor die straat sien draf, begin dinge in haar lewe verander . . .

 

 
Meisies se dinge & kosmiese soene
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-01-4
UIT DRUK
 

Izzie is cool, slim en pront met haar mond. Toe sy die ongelooflik aantreklike  Mark ontmoet, sweef sy op ’n wolkie. Hy belowe om te bel . . . maar doen dit nie.

Desperaat raadpleeg Izzie haar horoskoop en bly by die huis ingeval hy haar probeer kontak.

Toe Izzie begin kop verloor en niks meer snaaks of prettig vind nie, besluit haar beste maats, Lucy en Nesta, dis tyd dat sy terugkeer tot die werklikheid. Maar daar is sekere dinge wat mens liewer nie wil hoor nie . . . . .

 

 
Meisies se dinge & Portobello-prinsesse
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-02-1
UIT DRUK
 

Nesta is vreesloos en vol selfvertroue. Oral steel sy harte met haar modelvoorkoms, charisma en sjarme.

Sy ontmoet die perfekte ou – uiters aantreklik, met ’n sin vir humor en ’n minsame geaardheid. Maar daar is ook probleme. Simon kom uit ’n hoër stand en is net die beste gewoond – en dis moeilik vir Nesta om by te hou. En dan is daar Simon se vriendin Cressida, die ysige Portobello-prinses.

Nesta is vasbeslote om ’n goeie indruk te maak op Simon se mense, maar vind dat sy nie inpas nie. Gelukkig het sy vir Lucy en Izzie wat haar weer laat besef watter dinge in ’n mens se lewe  regtig saak maak.

 

 
Meisies se dinge & oorslaap-geheime
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-03-8
UIT DRUK
 

Vir Theresa Joanne (TJ vir haar vriende) is dit ’n moeilike jaar. Haar beste maat het getrek en dit lyk of Wendy, een van haar klasmaats, ’n grief teen haar het. Dit pla haar ook dat ouens haar soos een van hulle behandel en blykbaar nie agterkom sy is ’n meisie nie.

Toe Lucy met TJ maats maak, voel sy spanne beter. Maar sal Nesta en Izzie haar ook aanvaar? Haar toelaat in hul binnekring en oorslaap-geheimpies, prettige dinge, en raad en wenke met haar deel? Kan hulle TJ help om haar ware self en haar moontlikhede te ontdek?

 

 

Meisies se dinge & enkele oorlewendes
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-04-5
UIT DRUK
 

Lucy voel ’n bietjie eenkant. Almal behalwe sy het ’n ou. Ook Tony, vir wie sy so lank aan ’n lyntjie gehou het, het nou iemand anders gevind.

Een naweek saam met Izzie by ’n spa ontmoet Lucy toe net die regte ou. En hy is net so ingenome met haar.

Maar ná ’n ruk raak sy verveeld. Iemand kan jou met sy liefde versmoor, ontdek sy. Miskien is dit nie ’n slegte idee om weer op jou eie te wees nie.

 

 
Meisies se dinge & gruwelike glipse
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-05-2
UIT DRUK
 

Izzie raak rusteloos, is gretig om soos ’n volwassene behandel te word. Dis nou tyd om te verander, besluit sy.

Saam met die nuwe Izzie kom ook nuwe probleme. Eerstens is daar Josh Harper, heelwat ouer as sy en baie oulik, maar wild. Nog ’n probleem is haar ma wat glad nie die “nuwe Izzie” wil aanvaar nie.  En dan is daar die aand by Nesta-hulle se huis toe Izzie besluit om mengeldrankies te maak . . .

Algaande leer Izzie heelwat omtrent haar self en wat dit beteken om op te groei – maar in die proses krap sy die mense om met wie sy te doen kry.

 

 
Meisies se dinge & magneetkrag
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-06-9
UIT DRUK
 

Izzie, Lucy en TJ staar my aan asof ek ’n sirkusfrats is wat vir hulle ’n toertjie moet uithaal. Ek skud my kop heftig.

“Jy sal een of ander tyd jou mond moet oopmaak,” sê Lucy.

“Komaan, vat weg jou hand voor jou mond.”

Ek skud weer my kop.

“Dis awful. Ek lyk soos ’n bliksnyer.”

Nesta is skoon verslae. Sy het tydelik draadjies in haar tande en is bevrees  sy sal al wat ’n ou is afskrik en aan die moordhaai in Jaws laat dink. Om te probeer glimlag sonder om haar tande te wys, is ook nie ’n opsie nie. Daar is net een uitweg – om ’n kluisenaar te word.

Lucy, Izzie en TJ probeer haar troos dat sy nog net so mooi is soos altyd, dat dit haar sprankelende persoonlikheid is wat tel. Maar Nesta is nie oortuig nie.

Dinge verander egter toe sy vir Luke ontmoet. Hy help haar om haar selfvertroue terug te kry en ’n nuwe faset van haar persoonlikheid te ontdek.

 

 

Meisies se dinge & misverstande en moleste
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-07-6
UIT DRUK

Toe Luke, die ou met wie Nesta uitgaan, sy vurige liefde teenoor TJ verklaar, weet sy nie wat haar getref het nie. Sy voel dalk dieselfde teenoor hom, maar hy is tog Nesta se ou! Sy probeer hom vermy, maar toe hul skole saamwerk aan ’n projek, word  Luke as koördineerder gekies. TJ het geen ander keuse nie as om hom gereeld te sien.

Misverstand en slegte kommunikasie bedreig die meisies se goeie betrekkinge en verdeel hulle in twee kampe: Lucy en Nesta teenoor Izzie en TJ. Sal hul vriendskap dit oorleef?

 

 

Meisies se dinge & ‘n wegkomkans
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-08-3
UIT DRUK

’n Skooltoer na Florence bied Lucy ’n ideale wegkomkans. Sy moet ’n bietjie afstand kry van Tony wat die laaste tyd druk op haar plaas om hul verhouding verder te voer.

In Italië ontmoet sy ’n baie gawe en ordentlike jong man op besoek aan Toskane. Net die regte ou om haar van Tony te genees, dink sy. In Italië maak Lucy ook kennis met ’n wêreld van kultuur en verfyndheid.

Kan sy haar losmaak van Tony en aangaan met haar lewe? Of sal sy maar net weer van die wal af in die sloot beland?

 

 

Meisies se dinge & sjokolade-verleiding
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-09-0
UIT DRUK

 

Izzie was nog altyd mollig, maar van Kersfees af het sy drie en ’n halwe kilo opgetel, en niks in haar klerekas pas nie! Om die ekstra gewig af te skud, beproef sy al wat ’n dieet is, volg ’n moordende oefenprogram en luister na elke brokkie advies wat sy kry.

Omdat sy heeltyd oor haar gewig stres, is sy haar selfvertroue kwyt. Haar maats se ondersteuning en die feit dat sy gekies is vir ’n tienerpaneel op TV, help nie veel nie.  Ook nie dat die oulike ou by die ateljee van haar hou net soos sy is nie.

Haar vriendinne span saam om haar te help, maar sal Izzie weer tot haar sinne kom?

 

 

Meisies se dinge & drome
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-10-6
UIT DRUK

“Daai William Lewis dink ’n lot van hom self,” sê ek. “Hy’s so ’n pyn in die dinges.”

“H’mmm,” grinnik Lucy. “Dis presies wat hy van jou ook gesê het.”

“Het hy? Wat ’n vermetele vent. Hy irriteer my. Ek haat hom.”

Lucy, TJ en Izzie kyk veelseggend na mekaar.

“Jip,” sê TJ. “Jy haat hom.”

Lucy en Izzie bars uit van die lag, asof TJ iets skreeusnaaks gesê het.

My arme maats is sweerlik van hul trollie af . . .

Nesta se lewe is onderstebo vandat sy liefdadigheidswerk begin doen het. Sy het gedink dis ’n cool manier om mense (lees: ouens) te ontmoet. Maar toe haar oë oopgaan vir die lydende mensdom, wil sy regtig uit haar hart uit ander mense help.

Toe ontmoet Nesta vir William, wat haar motiewe bevraagteken. Sy glo vas hy haat haar, en hy voel dieselfde oor haar. Izzie, Lucy en TJ is egter oortuig die twee is verlief op mekaar.

 

 

Meisies se dinge & skroeiwarm somers
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-11-3
UIT DRUK

“Dis seker die laaste sien van Ollie Axford,” sê ek.

“Ek sou nie so seker wees nie, TJ,” sê Nesta. “Die kanse is goed dat hy jou sal probeer date.”

“Ek weet darem nie, hy lyk anyway vir my na ’n regte joller. Jy ken mos sy soort. Daai glinstering in sy oë vertrou ek nie.”

“’n Bietjie soos Luke?” vra Lucy.

Vir TJ was dit ’n lang droogte, sonder ’n enkele ou op haar horison – en toe skielik is daar sommer twee gelyk! Net toe TJ besluit  die hartebreker Ollie Axford is die regte ou vir haar, wil Luke de Biasi ewe skielik weer hul romanse laat vlam vat!

TJ is verskeur tussen hulle, en sy voel soos ‘n tweegesig. Maar sy hou op om haar oor ouens te verknies toe iemand na aan haar ernstig siek word. TJ moet haar kop skoon kry en sy het nou die ondersteuning van haar vriendinne – Lucy, Nesta en Izzie – dringend nodig!

 

 

Meisies se dinge & die geheime storie
Outeur: Cathy Hopkins
ISBN: 978-1-920335-12-0
UIT DRUK

Lucy onthou nog die eerste keer toe sy hom gesien het . . .

Paps ry stadiger toe die robot verander . . . en toe sien ek hom! ’n A-s-e-m-r-o-w-e-n-d aantreklike ou. Hy kom by St Michael’s se skoolhek uit en draf voor die motor verby. Donker. Lank en lenig. Hoekige kaak. My hart tuimel en tol, uit sy kassie uit op hol . . .

Tony was nie juis beïndruk nie . . .

 “Sê my, wat dink jy van Lucy en Izzie?” wil Nesta weet.

“H’m, oulik,” sê ek.

“Bedoel jy hulle al twee?”

“Wie’s nou weer wie?”

Tony het nie die vaagste idee die ondeunde, elfie-agtige Lucy sal binnekort sy hart steel nie. Maar ware liefde verloop nie sonder kinkels en knakke nie. Sy kant van die storie en Lucy se kant sal groot leesplesier verskaf aan die bewonderaarsklub van Meisies se dinge & . . .