Titel: Vertel da’ vir my ʼn storie
van Namakwaland
Outeur: Jan C van Wyk
Prys: R240-00
Publikasiedatum: September 2020
ISBN: 978-1-920335-84-7

 

In ’n afgeleë dorpie aan die voet van die Kamiesberg, doer in Namakwa­land, weet almal min of meer van almal. Plaasmense en dorpenaars is gereeld met mekaar in aanraking en saans op die stoepe word daar lang stories vertel.

Oor veldmense soos oom Vlerkie; oorbegeesterde predikers, towenaars, kragmanne en cowboys; oom Addie-kraai se verblyf by sy ondankbare kinders; Wagter, wat mos universiteit toe is; Kerneels-beursiebek, sterk soos ’n reus, maar met die gees van ’n kind; Gert‑waarheid en dié se nuwerwetse siekte; Niklaas en die duiwel; oom Korte en die bobbejaan; Koos-kordaat en Sarel-uintjie en ’n vreemde orakelding in ’n kas; Anna-twaalftoon; Rooi Gys Aggenbach; Siena-swaaihaak; tant Huibrecht-Gert … Goeie mense, gelowig, sout van die aarde.

Lank voor TV, toe koerante oud was en die platteland nog net kortgolfradio gehad het wat kraak, kwetter en suis, was nuus meestal op hoorsê aangewys en die stories van baasvertellers só met karakters vervleg: Vertel jy van die een, dan dwaal jy op die ander.

 

“ ’n Welkome toevoeging tot Afrikaans se skat van kontreikuns.”

Hans du Plessis

 

Jan Coetzee van Wyk is in Namakwaland gebore en getoë. Hy skryf matriek op Springbok, behaal regsgrade aan die Universiteit van Stellenbosch en die Vrystaat, praktiseer as prokureur en tree in 1996 tot die akademie toe. In 2018 tree hy uit as Uitvoerende Direkteur Regsdienste aan Unisa en ontvang in Mauritius die African Leadership Award in Higher Education. Nou doen hy navorsing en konsultasiewerk, lees aartsnuuskierig “enigiets van die Geelbladsye tot die Bybel” en skryf.