Van Afrikaans gepraat
Christo van Rensburg
Ko-produksie Malan Media & Lapa
ISBN: 978-079938476-5
Prys: R250-00

Soek mens na iets om oor te praat as jy oor Afrikaans wil gesels? Wat van Afrikaans se begin? En hoe die tale van die Ooste Afrikaans verryk het? Of miskien kan die ooreenkomste in taalgedrag van mense wat deur die eeue in townships gewoon het, aan die bod kom. Só kan daar ook na Afrikaans gekyk word. Van Afrikaans gepraat lei nóg temas in. Daar is die verskeie trekke van Afrikaanssprekendes. Die belangrikheid van die trek van die agtiende eeu in die binneland in vir die maak van Afrikaans, is beslis ’n gesprek werd. Die taalkontak wat daaruit gevolg het, of selfs ook die vrees vir taalkontak, is een van Afrikaans se belangrike stories. Die skryf van Afrikaans het op verskillende maniere begin, en sy standaardisering gaan met heelwat vertellings gepaard. Om nie eens te praat van ’n gesprek oor hoe ’n voetsoolvlaktaal Afrikaans eers was nie, en dan is daar die vraag of die Kaap vroeër regtig Hollands was. Wat is aan die gebeur nadat dié taal se eeu van waarheid aangebreek het, en hoe reflekteer sosiale veranderings in die taalgedrag van Afrikaanssprekendes?

 

Christo van Rensburg het sy akademiese loopbaan aan die Universiteit van Pretoria begin. Hy was daarna aan die Universiteit van die Vrystaat verbonde, voordat hy weer teruggekeer het na sy alma mater toe. Die voorkoms en samehang van die dialekte van Afrikaans het hom van die begin van sy akademiese loopbaan af geïnteresseer, waaruit verskeie navorsingsprojekte oor die voorkoms van Afrikaans gevolg het. Hierdie belangstelling het gelei tot insigte oor die vorming van Afrikaans, sienings oor taalverandering, en die verband tussen Afrikaans en ander tale, wat in verskeie boeke en navorsingspublikasies uiting gevind het.