Titel: Tao Te Ching, Boek van die Weg
Outeur: Abel Pienaar
Omslagontwerp: Izana Zaaiman
ISBN: 978-1-92033-554-0
Prys: R155,00

 

Hierdie wysheidsteks is naas die Bybel die mees vertaalde geskrif ooit. Die 81 kort Chinese spreuke is reeds 500 jaar v.C. geskryf en het sedertdien die Oosterse denke in­grypend beïnvloed. Lao Tzu word beskou as die skrywer van die Tao Te Ching.

In sy diepste wese is die Tao Te Ching ’n simboliese teks met veelvlakkige betekenislae. Elkeen kan daarin ’n eie rigting vind en kontak maak met ’n eie innerlike wysheid. Want in Taoïsme gaan dit veral oor hoe om ’n diep, betekenisvolle en etiese lewe te leef.

 

Abel Pienaar het homself bewys as ’n baanbreker van nuwe, skeppende religieuse denke in Afrikaans. Hierdie soepel vertaling van ’n klassieke werk met toepaslike verduidelikings bied in hierdie tyd van ingrypende her­oriëntering ’n unieke bydrae tot sulke denke.  – Kobus Krüger

 

Die outeur

Dr Abel Pienaar is ’n filosoof, skrywer en aktivis. Hy is mede­stigter en direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit (SES). Sedert 2006 is hy ’n spirituele begeleier in Renaissance Gnostiese Gemeente in Pretoria. Abel dien ook op die Nuwe Hervorming Netwerk se dagbestuur. Hy lewer gereeld tydskrif- en koerantartikels en neem deel aan radio-  en TV-programme. Sy eerste boek, Saam op soek na God, verskyn in 2010. Hy publiseer ook God se oë is blou en in 2015 word sy boek Die dans met God by die US Woordfees as die beste leefstylboek van die jaar bekroon.