Titel: Soos ‘n birimankwe
Outeur:  François Hugo
Formaat: Sagteband
ISBN: 978-0-9814075-4-8
UIT DRUK

In ou Njassaland (vandag Malawi) loop ’n sendelingskind met groot vrae vir so ’n jong seuntjie: oor Liewe Jesus en sonde, oor die “malman” wat ’n stomp om sy nek moet dra, die Roomse paap op sy BSA-motorfiets, Gidarra en Hassan wat elkeen sê daar is ’n ander god. Sommer terloops merk hy op die grootmense het Woensdagaand se biduur verskuif sodat hulle oor die saucepandraadloos na Die Du Plooys van Soetmelksvlei kan luister, asook ’n paar ander vergrype wat hy uit sy afluistery van grootmensgesprekke ondervang. Hoekom dr. Banda by hulle huis is vir ete maar dan ry sonder dat hy eet, maak ook nie juis vir hom sin nie. En wat hy veral nie verstaan nie, is dat Gidarra so bang is vir ’n birimankwe (verkleurmannetjie). Die birimankwe is dan so stadig maar so slim. Hy en sy maatjie het seker heel laaste by die ark aangekom terwyl Noag hulle maan: “Julle twee sal moet wikkel, daar kom ’n groot reën aan.” Maar toe hy vir hoërskool Suide toe moet gaan en sy ouers eers oor ’n jaar weer sal sien, haal die vrees hom die nag op die trein in, en sy enigste vertroosting is sy pa se laaste gebed: “Hou u hand van bewaring oor ons kinders, en dankie dat ons weet u genade is vir hulle genoeg.”

Dana Snyman: “Hierdie outjie se stories laat my nie net dink aan die opregte vrae wat ek oor Liewe Jesus gevra het toe ek klein was nie. Sy dom vrae is eintlik so slim dat hy mens baie laat lag en regtig lief maak vir hom.”

Jeanette Ferreira: “Deernisvolle humor, opreg kinderlike vrae oor geloof en eerstehandse Afrikageskiedenis.”