Titel: Piet wat Pompies was
Outeur: Elsa van der Byl
Prys R280,00
ISBN: 978-1-920335-74-8
Sagteband
Beskikbaar Desember 2018

Piet Pompies – vir talle mense ʼn ou bekende naam en uitdrukking wat vrolikheid en volkshumor verpersoonlik. Maar wie onthou nog die begaafde en veelsydige kunstenaar Pieter van der Byl, skepper van die oorspronlike, nimlike Piet wat Pompies was? Hierdie boek oor Pieter van der Byl – oftewel Piet Pompies – is saamgestel deur sy dogter Elsa, met insette van haar broers Pieter en Johan van der Byl, as huldeblyk aan die man wie se verhoognaam deel van ons volksbesit geword het. Met behulp van ook haar ma se Memoires en uittreksels uit sy artikels in verskeie bronne, kry die leser ʼn unieke kykie op die leefwêreld van die 1940ʼs tot 1980ʼs. Nie alleen was Piet van der Byl as volksmusikant en energieke verhoogkunstenaar bekend nie, maar het talle ligte, gewilde liedjies geskryf wat vandag nog gesing word, en was een van die eerste skrywers van ’n Afrikaanse rolprent wat aanklank by die gewone man sou vind.

“Hy was altyd regtig snaaks. Piet Pompies was my eerste ware stand-up comedian en ek mis hom geweldig!”

Pieter-Dirk Uys

Met ’n “Goeienaand, Dames en Here … Goodnight, Ladies and Gentlemen” het hy gehore aan die skater gehad vanaf die eerste oomblik wat hy op die verhoog verskyn het.

Johan Stemmet (Noot vir Noot)

As musiek- en kleuterskoolonderwyseres het Elsa van der Byl verskeie musiek­hand­leidings en opvoedkundige artikels gepubliseer. Met ʼn PhD (Pretoria), is sy bevorder tot waar­nemende rektor van ʼn voormalige onderwyskollege. In 2002 het sy ʼn musiekonderwyspos in Suid-Carolina aan­vaar, en na die VSA verhuis. Op versoek van vriende het sy begin om toere na Suid-Afrika en ander lande te lei en haar eie toermaatskappy, TravelswithElsa LLC, met ʼn aktiewe webwerf https://travelswithelsa.com/ gestig. Sy gee steeds klavierles, maar sedert 2017 is sy, as lid van ITWPA (International Travel Writers and Photography Alliance) ook reisjoernalis. Sy is tans besig om ʼn lig­hartige outobiografie oor haar lewe en ervarings in die onderwys­kolleges in Suid-Afrika te skryf. Sy is ’n trotse ma van vier dogters en nege kleinkinders.