‘n Diplomatieke Dagverhaal
Anton Loubser
ISBN:  978-1-920335-73-1
Price: R250-00

HIERDIE publikasie deur Anton Loubser lewer ’n belangrike bydrae tot ’n beter begrip van talle belangrike Suid-Afrikaanse en internasionale politieke kwessies.

Van die netelige kwessies waaroor hy kundig skryf, is die politieke bedeling in Suid-Afrika voor en ná 1994, die oplossing van die SWA-Namibiese geskil, Suid-Afrika se “stille Afrika-diplomasie” onder die vorige bedeling, die sensitiewe bekamping van sanksies in die 1970’s en 1980’s, en die oorgang tussen die “ou” en die “nuwe” Departement van Buitelandse Sake ná Nelson Mandela se vrylating.

Onder die internasionale kwessies wat hy onder die loep neem en waarvan sommige steeds onopgelos is, tel die voortslepende Israeli-Palestynse geskil en die immer teenwoordige Vlaams-Waalse taal- en politieke spanning in België.

Anton Loubser se keurige beskrywing van diplomaat wees met sy veelvuldige uitdagings – soet of suur – is ’n plesier om te lees en sal verseker as ’n aansporing dien vir die jonger geslag om ’n loopbaan in diplomasie te oorweeg.

Gert GroblerVoormalige adjunk-direkteur-generaal van die Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking

 

GEENSINS ’n stereotiepe biografie nie, verskaf hierdie boek ’n beeld van ’n Suid-Afrikaanse diplomaat wat sedert sy toetrede tot die diplomatieke diens in 1958 tot aan die einde van sy loopbaan in 2000 aan die volle laag van amptelike buitelandse verteenwoordiging blootgestel was. Dit dek onder meer die vreugde en opwinding wat die diens meegebring het, hoëprofiel-ontmoetings, persoonlike dramas, en moeilike situasies wat opgeduik het.

En soos die jong diplomaat geleidelik aan groter verantwoordelikhede blootgestel word, word ook die politieke eise en onafhanklike insigte skerper. Anton Loubser is veral gesensitiseer deur die lotgevalle van minderheidsgroepe, sterk kulturele verskille en swak deurdagte besluite wat deur politici geneem en slaafs deur volgelinge beaam word, of dan wel in belang van eie doelwitte bevorder word.

Anton Loubser as ’n deurwinterde en professionele diplomaat slaag uitstekend daarin om vele beduidende politieke en diplomatieke gebeure met al hul “vrolikheid en olikheid” baie doeltreffend te beskryf en die verband tussen gister en vandag te evalueer.

Jeremy SheararVoormalige adjunk-direkteur-generaal van die Departement van Buitelandse Sake