Titel: Kom ons bid, gebede vir vandag
Outeurs: Piet Muller (redakteur)
Abel Pienaar • Fanie Cronje • Gerhard Bothma
Johan Herholdt • Ronell Bezuidenhout • Willem Nicol
ISBN: 978-1-920335-50-2
UIT DRUK

 

Vele gewone en diep spirituele mense is deesdae huiwerig om te bid, omdat hulle godsbegrip besig is om ’n ingrypende verandering te ondergaan, weg van die opvatting van God as ’n Persoon; ’n Hemel-Vader met wie ons ’n liefdevolle verhouding kan hê en wat gebede aanhoor – maar dit nie altyd verhoor nie! Saam met die Westerse denke en wetenskap het ons begrip van God meer abstrak begin raak. In Kom Ons Bid vertel sewe bekende skrywers hoe Christene op ander tye in die geskiedenis gebid het en wat ons daaruit kan leer. Daarin word ’n nuwe sin vir gebed vandag ontdek, dat gebed in die eerste plek die gemeenskap van die gees met God is, wat ons geestelike lewe voed – en nie ’n pleidooi om gunste en gawes nie.

’n Geestelike lewe sonder gebed moet noodwendig verskrompel en verdroog omdat daar geen gebedsdialoog is wat dit voortdurend voed nie. Daarom kan die moderne mens nog steeds Paulus se vermaning om “te bid sonder ophou” ernstig opneem.

“Om te bid is nie maklik nie. Baie mense wil nie eers daaroor praat nie, want hulle voel skuldig omdat hulle sukkel om te bid. Daarom is goeie boeke en goeie nadenke oor gebed ’n kalmerende lafenis, ’n inspirasie, ’n heroriëntasie. Kom ons bid, gebede vir vandag, is so ’n boek. Onderwerpe wat in dié boek aangespreek word, is stuwend en aktueel.” – Ds Anton Pienaar, NG gemeente Stellastraat, Pretoria.

 

Piet Muller

Die redakteur en samesteller van Kom Ons Bid, dr Piet Muller, is ’n toekomskundige, skrywer en spreker, wat ook gereeld op radio en TV optree. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie publikasies. Die laaste drie dekades skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit. Hy bied werkswinkels, kursusse en retraites aan.