Hengelaar van harte
Nadat haar vrotsige vryer haar skandelik in die steek gelaat het, doen Simonel van Staden, ’n oulike skooljuffrou met ontembare rooibruin krulle, aansoek as noodhulpwerker op ’n hengeluitstappie. Simonel se naam word egter verwar met dié van ’n denkbeeldige Simon Nel en sy beland in ’n visvangavontuur wat beslis nie bedoel is vir vroue of sissies nie. Monsterhaaie met vlymskerp tande en ’n omgesukkelde visserman, Dewald Hugo, is deel van die pakket.
Toe die gevaarlik aantreklike Dewald en sy kameraman Tobie Ferreira agterkom die noodhulp-ou, Simon Nel, is toe mooitjies ’n noodhulp-vrou, Simonel, is hulle huiwerig om haar as een van die span te aanvaar. Maar sy is vasbeslote om haar tussen die manne te handhaaf en maak haar onmisbaar wanneer beserings en noodgevalle opduik.
Kry die humeurige hengelaar uiteindelik die eiesinnige Simonel aan die hoek, of is dit sy wat vir Dewald stadig maar seker inkatrol?