Titel: Geheime in die tuin
Outeur: Erik Holm
Illustreerder: Klaus Schaer
ISBN: 978-0-9814075-7-9
UIT DRUK

 

Die bekende insektekundige en ekoloog Erik Holm waag sy hand met groot sukses aan populêre titels vir kinders. In Geheime in die tuin stel hy ’n kabouter aan die woord, naamlik Ekologicus kabouteri . . . “Maar noem my sommer Eko”, sê dié vir Henk. Eko neem Henk op ’n reis deur die tuin waartydens hy wonderlike geheime aan hom openbaar.

Krapspinnekoppe kan hulle kleur verander sodat die bye hulle nie kan raaksien nie en bye maak magrietjies se stuifmeel in geel balletjies aan hulle agterpote bymekaar om vir hulle larwes te gaan voer. Maar die groot geheim is dat elke lewende ding in die tuin ’n vyand het. So word die ruspe vir die spinnekop ’n maal, die spinnekop vir die hottentotsgot, en die motte die vlermuise s’n. Maar als in die tuin het ook ’n geheim om hulle te verdedig. Raak mens aan die lemoenskoenlapper se larwe, ruk so ’n larwe vir hom op en stoot twee stinkende horinkies uit. Die hoep-hoep mis op haar kleintjies om hulle so ’n reuk te laat afgee dat g’n kat hulle sal vang nie. Die skeerbekmuis waag dit ook nie om haar kleintjies in die nes agter te laat nie, sy laat hulle aan haar stert vasbyt wanneer sy gaan kos soek. Die geitjie gooi sy stert af en maak dat hy wegkom toe die padda hom wil vang. En dit is verkeerd om met geheime in die tuin te lol, raas Eko toe Henk die mierleeu uit sy tregtertjie in die sand roer: “Sit en kyk, dan sien jy die ware geheim.”

Die geheim van Holm se sukses is dat hy daarin slaag om die jong leser te vermaak en terselfdertyd kennis oor te dra. Die teks word vervrolik en uitvoerig toegelig deur Klaus Schaer se aanloklike volkleurillustrasies.