Titel: Essays oor lewenswysheid
Outeur: Arthur Schopenhauer, uit die oorspronklike Duits vertaal deur CR Snyman
ISBN: 978-1-920335-42-7
UIT DRUK

Die Duitse filosoof Arthur Schopenhauer (1788‑1860) het ’n groot en belangrike bydrae tot die Westerse denke gelewer. In dié gedeeltes van sy geskrifte wat in hierdie boek vertaal is, het hy iets gedoen wat min filosowe gewoonlik doen: dit is om te skryf oor daardie ontwykende begrip “lewensgeluk”. Baie van die ander onderwerpe wat hy bespreek in die gedeeltes wat in vertaalde vorm in hierdie werk verskyn, is onderwerpe wat tot die gewone mens spreek, soos die verskillende tydperke van ons lewe, hoe om gemoedsrus te kry, die ydelheid van die najaag van rykdom en sosiale aansien, die rol en betekenis van lyding in ons lewe, die karaktereienskappe van mense wat innerlik ryk is, die wese van skoonheid, wat ander mense van ons dink, eer, roem, die belangrikheid van selfstandige denke, die vertroosting wat die ouderdom ons bied, en die onvernietigbaarheid van ons ware wese deur die dood.

Die outeur

Die vertaler, professor CR Snyman, was dertig jaar lank professor in Straf- en Prosesreg aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy is die skrywer van verskeie regsboeke, waaronder Strafreg, waarvan ses uitgawes al verskyn het, asook Criminal Law, waarvan vyf uitgawes al verskyn het. Met behulp van ’n Alexander von Humboldt-stipendium van die Duitse regering het hy ’n hele aantal jare in Duitsland navorsing gedoen. Benewens die strafreg het hy ook ’n lewendige belangstelling in filosofie.