Titel: Dieresiektes en die mens – Soönoses

Outeurs: Dr Jan H du Preez & dr Gert P du Preez

ISBN: 987 1 920335 80 9

 

’n Soönose is enige siekte of infeksie wat natuurlik van werweldiere na die mens oorgedra kan word, en omgekeerd. Die mens is dikwels ’n toevallige gasheer wat ’n siekte opdoen deur nabye kontak met ’n besmette dier wat siektetekens toon, of dalk nie.

Oor die 200 verskillende soönoses word wêreldwyd erken. Hulle kan deur ’n verskeidenheid siekteveroorsakende agente soos virusse, bakterieë en vele meer veroorsaak word. Van die 1 415 agente bekend wat mense besmet, is 61% soönoties. Statistiek toon dat 15% of meer van die menslike bevolking op die een of ander tyd in hul lewe ’n soönotiese infeksie opdoen.

Soönoses ondermyn ook die gesondheid, produktiwiteit en voort­planting van lewende hawe waarop mense vir hul voedsel, vesel, arbeid en vervoer staatmaak. Geldelike verlies weens tuberkulose, brusellose en hondsdolheid onder beeste bedra jaarliks biljoene rande.

Die verhouding tussen mens en dier hou wedersyds belangrike voordele in. Daarom moet die gesondheid van dié troetel- en ander diere beslis bo verdenking wees om ons van soönotiese besmettings te vrywaar.

Met die nodige kennis en inligting kan soönoses verhoed en beheer word. Daar is geen rede om diere te vrees of te vermy sodat jy jou teen soönoses kan beskerm nie. Hierdie boek, die gevolg van samewerking tussen kundiges in menslike en veeartsenykundige medisyne, stel dit duidelik: Gaan voort met die goeie verhoudings wat jy met troetel- en geselskapdiere geniet, die plesier om na wild te kyk en vis te vang, asook om moontlik interaksie te hê, met diere te werk, jou voorkeurvoedsel van diere te eet en melk te drink, solank jy bewus is van die moontlike risiko’s en van toepaslik higiëniese voorsorgmaatreëls ten opsigte van jou eie en die diere se gesondheid om besmettings te voorkom.