Titel: Die krisis van die afwesige gees
Papieruitgawe: R249,00
e-boek: R199,00 = $14
Papieruitgawe ISBN: 978-1-920335-55-7
e-boek ISBN: 978-1-920335-56-4

Krisis is ʼn woord wat gereeld en met gemak gebruik word – vir groter en kleiner aangeleenthede. Eintlik is dit nogal ʼn skrikwekkende woord. Ernstige krisisse laat dikwels noemenswaardige spore en letsels na, vereis moeilike besluite en keuses en word nie te gemaklik opgeklaar nie. In die lig van die vergeetagtigheid en traak-my-nieagtigheid aangaande die menslike gees en selfs die ontkenning, verloëning en vernedering daarvan, verbaas dit nie dat krisis kwalik in hierdie konteks as iets sorgwekkends beskou sal word nie, of hoegenaamd selfs ʼn gepaste woord kan wees.

Wanneer daar egter meer indringend besin word oor die krisis wat met die verlies aan gees verband hou, lyk dit na ʼn uiters ernstige aangeleentheid van omvattende en diepgaande belang, met ernstige gevolge. Dit lei gemaklik tot ʼn verwydering tussen mens en werklikheid, tussen mens en lewensinvolheid – ʼn sterk algemene beweging in die rigting van middelmatigheid, selfs die verabsolutering daarvan, veral op die gebied van denke, wete, kennis en waardes, met nadelige gevolge vir kwaliteitonderwys en wetenskaplike werk.

Dit het heelwat praktiese implikasies: die prysgawe van singulier-unieke individualiteit en sinvolle same-lewing – met die gevolglike prosesse van geweld, armoede en eksploitasie wat hieruit spruit, die onttowering van die wêreld en die hoop-lose verduistering van die toekoms. Duidelik is die gevolge skrikwekkend en die geskepte ellendes noemenswaardig, selfs onberekenbaar.

Die pleidooi vir die herinvensie van menslike geestelikheid is dus ʼn pleidooi vir die herstel van dit wat die enigste waarborg kan wees vir die herstel tot volle sinvolheid van alles wat verniel, vernietig, beskadig en afgeskaal geraak het en waaronder alle mense ly.

 

Die outeur

Prof CS (Fanie) de Beer is emeritus professor in die Departement Inligtingkunde, Universiteit van Suid-Afrika, en tans verbonde aan die Departement Inligting­kunde, Universiteit van Pretoria.

Hy het gegradueer in Landbou, en in Filosofie tot op doktorale vlak, aan die Universiteit van Pretoria en ʼn postdoktorale kwalifikasie in filosofie aan die Universiteit van Parys X. Nanterre, Frankryk, verwerf. Hy het Filosofie, Kommunikasie­kunde en Inligtingkunde aan verskillende universiteite doseer, het navorsing in al hierdie velde onderneem en was betrokke by konsultasiewerk in kennisskepping, -invensie, disseminasie en toepassing. Tans is hy betrokke by navorsing op die volgende terreine: die filosofie en teorie van inligting, filosofieë en teorieë van tegniek en tegnologie, van kennisinvensie, -disseminasie en -benutting. Hy is veral ook toegewy aan navorsing oor leesteorie en geletterdheid, oor die herinvensie van menslike geestelikheid en noölogie, oor die etiek van kennis en wetenskap, en oor teorieë van informatisering en plastisiteit.

Oor al hierdie temas het hy wyd gepubliseer.