Outeurs / Authors

Eric Holm
Erik Holm publiseer 12 populêr-wetenskaplike boeke, waaronder Inseklopedie van Suider-Afrika en Natuur-lik! Sy wetenskaplike werk sluit in talryke boeke en artikels op die gebied van ekologie, biogeografie, evolusie en taksonomie. Hy het 35 jaar lank radiopraatjies gelewer en twee dokumentêre filmreekse gemaak, naamlik Insekgedrag menslik bedreig en As hy jou byt. Holm woon naby Pretoria.

Francois Hugo
Dr. Francois Hugo is ’n sendelingskind, gebore in Malawi. Hy is ’n bekende in sielkundige en sportkringe. Tans is hy hoof van menslike hulpbronne in die FirstRand-groep.

Linda Opperman
Linda Opperman is ’n plantpatoloog aan die Universiteit van Pretoria waar sy navorsing doen oor die verbouing van knopiesampioene. Die werkings van dié geheime planteryk is soms makliker verstaanbaar as die onderskeie tydroosters van haar man, drie seuns, ’n hond en ’n kat saam met wie sy in Brooklyn, Pretoria, woon.

Amelia Strydom
Amelia Strydom het grootgeword in ’n huisgesin waar sy omring was met boeke. Haar pa was ’n skrywer van jeugverhale en haar ma ’n ywerige leser wat haar van kleinsaf storie-verslaaf gemaak het. Amelia het altyd aangeneem dat sy eendag van die stories wat haar snags wakker hou, sou neerskryf. In 2008 het sy as doula en laktasiekonsultant by ’n geboorte-eenheid begin werk. Hierdie ervaringsveld is ’n bron van inspirasie vir haar mediese liefdesverhale. Amelia en die liefde van haar lewe woon op ’n kleinhoewe buite Pretoria in ’n huis wat wemel van kinders, diere en boeke.

Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt se gewilde weeklikse rubriek in Beeld het van haar ’n huishoudelike naam gemaak. Sy is ’n vryskutjoernalis wat baie reis, asook karweier van haar twee dogters wat saam met haar in Kaapsche Hoop, Mpumalanga, woon.

Annetjie van Tonder
Annetjie van Tonder, oudonderwyseres, woon op Klerksdorp in Noordwes. Nadat haar kortverhale in verskeie tydskrifte verskyn het, het sy ook liefdesverhale begin skryf. Sy skryf dié verhale omdat sy belangstel in mense en hulle stories en omdat liefde die spilpunt is waarom alle verhoudings draai. Annetjie se lekkerste tydverdryf is om te lees. Sy skilder ook en hou van musiek, veral Beethoven.